Quo Vadis? het as evangeliseringsblad verskyn tussen die jare 1961 en 1999. Dit is aan lidmate uitgedeel om hulle toe te rus om die Evangelie van Jesus Christus uit te dra. In die eerste uitgawe skryf Dr Wimpie de Klerk soos volg:

 

Voordat u ons binnenooi, wil u weet waarom ons by u kom. besoek aflê? Ek sal saaklik wees — ons is met die vraag van ons blad voor u deur omdat daar 'n God in die hemel is wat min of meer 1,961 jaar gelede sy Seun, Jesus Christus na die aarde gestuur het om die volmaakte offer te bring vir die sonde en skuld en verlorenheid. Dit is die belofte van die Evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Daarom vra ons u: Waar gaan u heen?

Ons ken u nie op u naam nie, maar ons het gedink dat u ook bly sal word as ons u die goeie nuus meedeel dat daar 'n geopende deur is en dat u nie uitgesluit is nie toe Hy geroep het: "Kom na My toe!" Ons het daaraan gedink dat u baie probleme sal hê — struikelblokke en besware wat die pad na Jesus Christus vir u versper. Daarom soek ons u op vir 'n openlike gesprek.

Ons het gemeen dat u ook soms moeggejaag is deur die lewenstempo. Dat u ook soos ons, beklem word deur die swartgalligheid van ons tydsgewrig. Dat, u soms huiwer vir die lewensverantwoordelikhede en ook maar klein en eensaam voel, gevang in die maalstrome van duisende opinies en rigtingwysers wat van ons gelukkiger mense wil maak. Ons wil u opreg by die hand vat en in nederigheid maar tog met) grote beslistheid en oortuiging u met ons meeneem na die bron van die vrede en vreugde.

Sentimentaliteit is nie ons metode nie, maar nugtere getuienis van die Waarheid van die Bybelopenbaring vir elke lewensituasie.

Selfverheffing is nie ons gesindheid nie, want ontvange genade maak nie opgeblase nie.

Selfverdediging is nie ons opset nie, want wat ons aan u te sê het, is op hemelse gesag — 'n dwingende, uitnodigende warme woord wat wil koester, maar wat ook brand.

Graag wil ons die liefde en blydskap in ons gesprekke ingiet om u jaloers te maak op die vrug van die geloof. Ons bely ons plek as instrumente van die Gees van God wat die enigste bewerker van die saligmakende geloof is. Ons wil 'n kanaal van die hemel wees wat die lewende water wil afkeer na u hart en huis.

Waar gaan u heen?

Dit is 'n krisisvraag wat u as aangesprokene dadelik in die gewete moet aangryp.

Die antwoord voor God en die mense is u aandeel aan die tweegesprek.

Ons innige bede is dat u ons gesprekke met dieselfde erns sal bejeën as wat ons dit, onder vier oë met u, uitspreek.

In die oortuiging dat u ons nie as 'n vreemdeling ontvang nie, maar as 'n vriend — miskien 'n langvergete jeugvriend, groet ons u.