INLEIDING OP DIE KERKORDE VAN DIE GEREFORMEERDE KERKE IN SUID-AFRIKA

A le R du Plooy

1 Doel

Die bedoeling van die inleiding is om die gebruikers van die kerkorde oor die gereformeerde of presbiteriale kerkregering soos dit in die kerkorde vergestalt word, te oriënteer.

Aspekte soos die oorsprong, geskiedenis, bedoeling, funksie en gesag van die kerkorde word oorsigtelik behandel. Die belangrikste grondbeginsels sal ook kortliks aangedui word en teenoor enkele ander beskouinge oor kerkregering gestel word.

2 Oorsprong

In die proloog van die kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika staan dat die sinode van 1862 te Reddersburg besluit het om die Dordtse kerkorde van 1618/19 vir die kerkregering te aanvaar. Ooreenkomstig artikel 86 van hierdie kerkorde is dit sedertdien hier en daar aangepas en gewysig.

Die vraag is nou egter of 'n kerkorde nie maar blote mensewerk is nie, en of ons dit in die Skrif vind. Gee die Woord van God voorskrifte, gegewens en duidelike beginsels oor die regering van die kerk?

Hoewel ons natuurlik nie in die Skrif self 'n kerkorde vind nie, is daar besonder belangrike openbaringe of gegewens in die Skrif oor die regering van die kerk van Jesus Christus.

Ter illustrasie noem ek enkele voorbeelde.

  1. God eis dat alles in sy kerk gepas en ordelik moet geskied, omdat God nie 'n God van wanorde is nie (1 Kor 14:33 en 40).
  2. Die basiese vertrekpunt vir Skriftuurlike kerkregering setel in die koninkryk van God. Die koninkryk van God beteken veral dat God Koning is en dat Hy in Christus regeer (1 Kor 15:24). Die apostel Paulus leer baie duidelik dat Christus die Hoof van sy kerk is (Ef 1:22, 23; Kol 1:18). Christus is nie die hoogste Hoof van die kerk nie, maar die enigste Hoof. Hy regeer self as Gesagshoof en as organiese Hoof laat Hy die kerk as sy liggaam uit Hom en in Hom opgroei (Ef 4:11-16).
  3. As Hoof van die kerk het Christus self reëlings verorden vir die regering van sy kerk. Op 'n besondere manier sorg God vir die voortdurende leiding en voortbestaan van sy kerk. Daarom openbaar Hy Hom ook as die groot Gewer; Gewer van sy Seun, van die Heilige Gees, van genadegawes en van die dienste. Dit alles gee Hy in en aan sy kerk sodat die kerk versorg, bedien en regeer kan word (Jh 3:16, Hand 2, Mt 28:18-20, Jh 21:15-17, 1 Kor 12:4-6, 28, Rom 12, Ef 4:8).
  4. Die genadegawes van verkondiging, van hulpverlening (en barmhartigheid) en van leiding en regering konkretiseer byvoorbeeld in die dienste van apostels, profete, evangeliste, herders en leraars, van diakens en ouderlinge (1 Kor 12-14, Rom 12, Ef 4, 1 en 2 Tm en Tt).
  5. Nadat die buitengewone dienste (soos apostels en profete) in en deur Christus die fondamente van die kerk gelê het (Ef 2:20), word daarop voortgebou deur die besondere dienste van ouderlinge (leer- en regeerouderlinge) en diakens. Al die ouderlinge (presbuteroi) was opsieners of regeerders in die kerke, en sommige het besonderlik as leraars die diens van die Woord verrig (Hand 6, 11:30, 14:23 20:28; Pastorale Briewe, byvoorbeeld 1 Tm 3:2, 5:17, 2 Tm 2:2; Flp 1:1; 1 Pt 5).
  6. Deur die bediening van die Woord die sakramente en die kerklike tug of dissipline Mt 16:17-19; 2 Tm 4:2; 1 Kor 10:16 ev, 1 Kor 11:23; 1 Kor 5) kan gelowiges toegerus word en die kerk opgebou word.
  7. Aangesien die ouderlinge (in Grieks presbuteroi) die diens van regering in die kerk verrig, word ons kerkregeringstelsel die presbiteriale kerkregeringstelsel genoem.

    Die vier afdelings van die kerkorde wat handel oor die dienste, die kerklike vergaderinge, die sakramente en kerklike seremonies asook oor die kerklike tug is in die Skrif gefundeer.

    3 Geskiedenis van die kerkorde

    Die Dordtse kerkorde van 1618/19 het op sy beurt 'n eie voorgeskiedenis gehad.

    Gedurende die Reformasie van die 15e en 16e eeue was dit duidelik dat die Roomse Kerk - ook ten opsigte van die kerkregering - verval het. Die grondfout was dat die Christus-regering deur menslike of pouslike regering verdring is. Die pouslike of kerklike gesag en tradisie is met die Woord van God gelyk gestel en die pous is as die verteenwoordiger van Christus op aarde beskou.

    Terwyl die groot kerkhervormers, soos Luther, Zwingli, Bucer en andere in die sestiende eeu hulle met groot erns met die leer van die kerk besig gehou het, en in reaksie teen die Rooms Katolieke Kerk ook met die vraag oor hoe die kerk op aarde regeer en georganiseer moet word geworstel het, het Calvyn - 'n tweede generasie hervormer - op die toneel verskyn. Die gereformeerde of presbiteriale kerkregering wat ons vandag nog handhaaf berus hoofsaaklik op Calvyn se verstaan van die Skrif ten opsigte van die kerkregering.

    Calvyn het 'n merkwaardige bydrae gelewer, veral as ons dit teen die agtergrond van sy tyd beskou. In Engeland was daar byvoorbeeld 'n stelsel, bekend as die episkopaalse (biskoplike) kerkregering ontwikkel en in die Duitse (Lutherse) state en in die Switserse kantons 'n landelike of territoriale stelsel. Volgens hierdie stelsels het die owerhede of staat in mindere of meerdere mate seggenskap in die kerkregering.

    Die wyse hoe God deur sy Woord en Gees die kerk regeer, was vir hom aan die een kant deel van die leer van die kerk, en verder moes die kerk ter wille van die orde en opbou van die kerk kerklike bepalings of verordeninge opstel.

    Sulke bepalinge waarvan sommige direk in die Woord van God aan die kerk gegee is en ander uit die Skrif afgelei word, het hy beskou as noodsaaklik en diensbaar aan die opbou van die kerk. Net soos 'n owerheid kan ook die kerk nie sonder ordelike bepalings behoorlik regeer en gedien word nie.

    Hy was versigtig en wou nie dat hierdie kerklike verordeninge te veel moet wees nie, en veral nie daartoe mag lei om die Woord van God te verdring nie. Hy wou geen teenstelling hê tussen 'n sogenaamde Christus-regering in die kerk en 'n kerkregering op gesag van die kerk self nie. Die kerklike bepalinge moet juis daarop gerig wees om deurgang en beveiliging van die regering deur die Woord en Gees self te reël en te verseker. Vir hom staan dit vas dat Christus die enigste Hoof van die kerk is, en dat God dienaars in die kerke roep en lei om onder leiding van die Woord en die Gees die kerk te regeer.

    In die geskrifte van Calvyn soos sy Institusie, sy kommentare en sy eie kerkorde, bekend as die Ordonnances Ecclésiastiques kan bemerk word hoe belangrik hy 'n goeie en ordelike regering van die kerk van Christus beskou het, en selfs uitgewerk het.

    Artikels 27-32 van die Nederlandse geloofsbelydenis (1561) en Sondag 21 van die Heidelbergse Kategismus (1563) verwoord hoofsaaklik die standpunte van Calvyn, en is vandag nog deel van ons eie belydenis oor die regering van die kerk.

    Waar gereformeerde kerke gedurende die 16e en 17e eeue vergader het en saam besin het oor die wyse van die regering en organisasie van die kerke is alleen voortgebou op die fondamente wat Calvyn gelê het.

    Reeds in 1559, tydens die sinode van gereformeerde kerke te Parys, is 'n kerkorde - die Discipline ecclésiastique - opgestel wat heeltemal met die gedagterigtings van Calvyn ooreen gestem het.

    Die Nederlandse gemeentes in die suide, die sogenaamde Waalse of Franssprekende gemeentes, was onder druk van die Roomse vervolging, maar het tog in die jare 1563-1566 in die geheim vergader en heelwat aandag aan die regering van die kerk gegee en bepalinge daaroor opgestel.

    In daardie tydperk van die Roomse vervolging van die protestante het die reformatoriese kerke ook na Engeland en na lande naby Nederland, en in die omgewing van die Ryn gevlug - kerke wat bekend was as die Nederduitse vlugteling-kerke. Onder leiding van predikante soos a'Lasco en Micron is daar vir hierdie kerke ook heelwat verordeninge opgestel.

    'n Aantal prominente predikante het in 1568 by Wezel in 'n samekoms (konvent) gedagtes oor 'n kerkorde op skrif gestel.

    In 1571 het die eerste werklike sinode van die Nederlandse kerke plaasgevind, en is artikels oor die wettige orde van die kerke opgestel.

    Daarna het die kerke hulle nog in 'n hele aantal sinodes daarmee besig gehou: by Dordrecht in 1574 en weer in 1578, by Middelburg in 1581 en by 's-Gravenhage in 1586. Dit was die jare van afronding. In 1581 is byvoorbeeld vir die eerste keer van 'n kerkorde (Kerckenordeninghe), dit wil sê van 'n eie bundel met kerkordelike artikels, gepraat.

    In 1618/19 het die sinode te Dordrecht eintlik maar die proses voltooi - sonder dat daarmee bedoel was dat dit as 'n onveranderlike dokument finaal afgehandel was.

    In die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika geld die Dordtse kerkorde (DKO) vanaf die stigting in 1859. Ds Dirk Postma het egter voor die stigting van die Gereformeerde Kerk op 5 Januarie 1859 'n gewysigde kerkorde opgestel, ooreenkomstig artikel 86 van die DKO. Dit is verander en aangepas volgens die heersende omstandighede in die land. So blyk dit reeds uit die mededeling op 11 Januarie 1859 aan die Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR. Die klem was steeds dat die Gereformeerde Kerk in die ZAR nie net die Drie Formuliere van Eenheid wat in 1618/19 te Dordrecht vasgestel is, aanvaar nie, maar ook die kerkorde van dieselfde sinode. In die openlike verklaring wat op 14 Februarie 1859 vir die eerste keer verskyn het, staan daar ten opsigte van die kerkregering dat dit ingerig sal word "naar die van Dordrecht van 1618 en 1619". Die eerste sinode in 1862 het formeel besluit om nie die gewysigde kerkorde van ds Postma nie, maar die kerkorde van die sinode te Dordrecht van 1618/1619 vir die kerkregering van die Gereformeerde Kerke te aanvaar.

    In die breë of ekumeniese gereformeerde kerklike gemeenskap in die wêreld vind ons heelwat kerkgemeenskappe wat steeds hulle kerkregering geheel en al of minstens op die basis van die Dordtse kerkorde van 1618/19 inrig.

    4 Bedoeling en funksie van 'n kerkorde

    Die kerkorde het 'n dienende karakter. Dit wil in die lig van pertinente uitsprake in die Woord (Matt 16:18 -19; Ef. 4:11-16; 1 Kor 14:26-40) waarop Calvyn dikwels ons aandag vestig as hy oor die kerkregering skryf, alleen diensbaar wees aan die opbou van die kerk. Die opstellers van ons kerklike verordeninge het van die gedagte uitgegaan dat juis die opbou van die kerk die vernaamste wet in die kerk is.

    'n Kerkorde wil nie en mag nie probeer om die hele kerklike lewe te beheers of te reglementeer nie, en is nie vergelykbaar met 'n konstitusie van 'n vereniging nie.

    Dit wil alleen daaraan diensbaar wees dat elke plaaslike kerk waarlik die beeld van die liggaam van Christus sal wees. Dit reël die wyse waarvolgens plaaslike kerke mekaar kan help en bystaan in die opbou van die kerk en sodat daar werklik eenheid in leer, diens (liturgie) en tug (kerkregering) kan wees.

    Op die vraag wat dan in 'n kerkorde tuishoort en wat alles daarin gereël behoort te word, het hervormers soos Bucer en Calvyn 'n duidelike en eenvoudige antwoord gegee. 'n Kerkorde moet naamlik die orde wat God self vir sy kerk gegee het as basis aanvaar en dit in die lig van die Woord van God nader uitwerk en in verordeninge formuleer.

    Die orde wat God vir sy kerk gegee het trek saam in die volledige versorging van sy kerk deur die bediening van die Woord, die sakramente en die tug. So word die kerk as 'n orde of liggaam van Christus saamgebind en opgebou.

    Daarom moet die bepalinge in 'n kerkorde min en eenvoudig wees, en dien die merktekens van die ware kerk, naamlik suiwere bediening van die Woord, sakramente en tug ook as die wesenlike elemente van 'n kerkorde.

    Kerklike verordeninge behoort in besonder daarop gerig te wees om die wyse waarop die sleutelmag van die kerk uitgeoefen word, nader te reël en te orden. Die sleutels van die koninkryk van die hemele wat Christus aan die kerk gegee het, naamlik die bediening van die Evangelie en die kerklike tug of dissipline (Matt. 16 en Sondag 31 Heidelbergse Kategismus) behoort net soos die merktekens van die ware kerk 'n integrale deel van 'n kerkorde uit te maak.

    Wanneer ons nou na die indeling van die kerkorde kyk, bemerk ons dat dit inderdaad die geval is. Dit bevat basies bepalinge oor die bediening van die Woord (in gemeentes en in vergaderinge), die bediening van sakramente en die toepassing van die tug.

    Die kerkorde is in die lig hiervan gerig op die ontsluiting van die koninkryk van die God en nie doel op sigself nie.

    5 Gesag van die kerkorde

    Die indruk mag nie bestaan of ontstaan dat 'n kerkorde soos 'n juk op ons gelê word en die groei van die kerk belemmer nie. Aan die ander kant is die kerklike bepalinge ook nie blote riglyne of adviese wat elke kerk of individu na eie oordeel kan aanvaar, wysig of ter syde stel nie.

    Die gesag van 'n kerkorde lê nie in homself nie, maar in sy verbondenheid aan die Skrif en konfessie. Meer in besonder kan gesê word dat die gesag van die kerkorde bedienend van aard is en op twee ongelyke bene berus. Dit rus eerstens en finaliter op die Woord van God wat absolute gesag dra. In die tweede instansie dra die bepalinge wat die kerke by wyse van onderlinge instemming nodig ag, kerklike gesag (vgl artikels 1 en 86 van die kerkorde).

    Die kerkorde het nie die aard of karakter van 'n selfstandige kerklike wet naas die Skrif nie. Vanweë sy verbondenheid aan die Woord van God en konfessie wil dit juis die gesag van die Woord van God bedien.

    Die konfessie wil alleen naspreek en bely wat die Skrif openbaar. Dit is 'n antwoord op die Woord, niks anders en niks meer as 'n weerklank nie. Daarom is teksverwysings by 'n konfessie noodsaaklik. 'n Kerkorde bevestig die antwoord van die konfessie; soos die belydenis rus dit op die Skrif as enigste gesagsbron, maar wil graag die beginsels van die Skrif, soos in 'n konfessie verwoord, konkretiseer en prakties laat toepas. Omdat 'n kerkorde hierdie besondere band met 'n konfessie het, is dit nie nodig om by elke artikel 'n Skrifbewys te voeg nie.

    Die konfessie gaan ook die kerkorde vooraf. Alle kerke wat met mekaar een is in die leer, kom juis op grond daarvan byeen om die uitlewing van hulle onderlinge en gemeenskaplike geloof prakties te reël, en om die organisasie en regering van die kerke in 'n kerkorde uit te werk. Om aan bepaalde kerkordelike artikels uitvoering te gee, is ook weer liturgiese formuliere - wat gemeenskaplik gekeur en aanvaar is - nodig.

    Na binne het die bepalinge dus bindende krag en moet dit as geldig beskou word en onderhou word. Na buite dien so 'n kerkorde - in regsterminologiese taal - as die interne verbandsreg van die bepaalde kerklike gemeenskap wat ooreen gekom het oor die wyse van kerkregering. In hierdie opsig is dit belangrik dat kerke in regspraak en besluite binne die raamwerk van die kerkorde sal bly. Geen kerk, persoon of kerklike vergadering kan in stryd met die kerkorde handel en pleit dat 'n hof nie sy besluite mag toets of ter syde stel nie.

    6 Grondbeginsels van die Gereformeerde kerkregering

    Ten grondslag aan die gereformeerde kerkregering soos dit in die kerkorde as die geldige kerkorde vergestalt word lê daar enkele beginsels. Hierdie beginsels of pilare waarop die presbiteriale kerkregeringstelsel rus, kan ook dien om die kerkorde mee te beoordeel en beter te verstaan. Dit word kortliks behandel.

    6.1 Die koninkryk van God

    Ons het aangetoon dat die bedoeling van die kerkorde daarop gerig is om diensbaar te wees aan die vestiging van God se orde en reg in sy liggaam of kerk deur die bediening van die Woord, die sakramente en die tug waardeur die koninkryk van God vir sy kerk oopgesluit word.

    Die koninkryk van God is egter nie net die doelwit nie, maar ook die vertrekpunt of basis in gereformeerde kerkregering. Die eintlike en allesoorheersende beginsel in die gereformeerde kerkregering is die koninkryk van God. Hiermee bely ons dat Christus die enigste Hoof van die kerk is, en dat Hy deur sy Woord en Gees sy kerk regeer.

    In die gereformeerde kerkregering setel die gesag in die Woord van God.

    Ander stelsels van kerkregering wat hieronder genoem word, vertrek ook dikwels van die belydenis dat Christus die Hoof is van die kerk, maar in die praktyk blyk dit anders te wees:

    In die Roomse stelsel trek die gesag in die pous en in konsilies saam; by die Lutherse stelsel in die landvors; by die Erastiaanse of Episkopaalse stelsels in die owerheid; by die Kongregasionalistiese stelsel in die plaaslike gemeente; by die Kollegialistiese stelsel in die individu of diegene aan wie die individue dit opdra.

    Die charismatiese bewegings is meer geneig om die Woord en Gees van mekaar los te maak, en die gesag af te lei van die openbaring of lig wat bepaalde gelowiges van die Gees maar los van die Woord ontvang het.

    6.2 Die dienste

    Die Woord van God openbaar verder aan ons hoe Christus sy gesag en sy regering in die kerke wil laat bedien. Daarvoor gee hy gawes en dienste, en roep Hy mense in sekere dienste (of ampte) van lering, regering en versorging. Deur die diens van die Woord en onder leiding van die Gees vergader God sy kerk, en oral waar kerke ontstaan, word mense in die bepaalde dienste verkies en bevestig om daardie gelowiges toe te rus, op te bou in die geloof en in die eenheid van die geloof te bewaar. As sodanig gaan die dienste prinsipieel die kerk vooraf.

    Christus dra nooit sy gesag oor aan die dienaars in die kerk nie, maar dra Hy dit wel aan hulle op om Hom in en aan die kerk te bedien. Die dienaars is niks meer as instrumente in die hand van die Heilige Gees nie.

    In die Roomse stelsel word die biskop of pous - in plaas van om dienaar van Christus te wees - koning en hoof van die kerk. Die sogenaamde geestelikes is hoër as die leke, en in die geledere van die geestelikes vind ons 'n rangordelikheid met die pous as hoof van die kerkstruktuur sodat die Roomse stelsel hiërargies van aard is. By Luther word die dienste onder waardeer en eintlik net aan die predikamp aandag gegee, maar wel tereg melding gemaak van die algemene priesterskap van alle gelowiges. In die Lutherse stelsel (en so-ook in die Erastiaanse en Episkopaalse stelsels) het die landvors en owerheid mettertyd die verantwoordelikheid van die dienaars oorgeneem. In die Kongregasionalistiese en ook in die Kollegialistiese stelsel word die dienaars alte veel beskou as amptenare wat die wil van die gemeente alleen moet uitvoer omdat hulle deur die gemeente self daar gestel is, en met gesag beklee is.

    In die charismatiese groepe is die vertrekpunt die gedagte dat sommiges die salwing van die Gees ontvang het en besondere gawes het en daarom met gesag as dienaars kan optree.

    6.3 Kerk en kerkbegrip

    In die Gereformeerde kerkregering word uitgegaan van die Skriftuurlike feit dat elke plaaslike kerk 'n komplete kerk is, wat in ons gereformeerde belydenis bekend is as 'n vergadering van gelowiges. Dit beteken prakties dat 'n plaaslike kerk selfstandig bestaan en onder leiding van die kerkraad 'n regspersoon is. Daar bestaan uiteraard 'n besondere band tussen plaaslike kerke op grond van die eenheid in leer en kerkregering, sodat plaaslike kerke saam in meerdere vergaderings kan byeenkom, soos dit in die gemeenskaplike kerkorde bepaal en uiteengesit word. Volgens die Gereformeerde kerkregering is die byeenkoms of vergadering van kerke in 'n meerdere vergadering, soos 'n klassis of sinode nie 'n permanente liggaam (soos 'n streeks- of landskerk) of 'n regspersoon nie, maar slegs 'n geleentheid waar die kerke in die meerdere vergadering 'n agenda behandel en afhandel. Nadat die vergadering afgesluit het, ontbind die vergadering terwyl die besluite bly staan.

    'n Fundamentele vertrekpunt is dat geen (plaaslike) kerk oor 'n ander kerk enige heerskappy mag voer nie, juis omdat elkeen volledig en kompleet kerk van Jesus Christus is.

    Die Skrif leer ons dat die verskillende kerke mekaar in die regering van die kerk van Jesus Christus moet bystaan en help, saam oor moeilike sake sal oordeel, en mekaar tot diens behoort te wees.

    In die Roomse stelsel word uitgegaan van die gedagte van een wêreldkerk wat funksioneer as 'n sigbare heilsinstituut en waarin tussen geestelikes en leke onderskei word. In reaksie teen die eensydige aksent wat die Roomse Kerk op die sigbaarheid van die kerk lê en die feit dat die koninkryk van God en die Roomse Kerk met mekaar geïdentifiseer word, het Luther weer die onsigbaarheid van die kerk oorbeklemtoon. Dit was die rede waarom die organisasie van die sigbare kerk by die Lutherse Kerk te veel in die hande van die landsvors oorgelaat is. In die Lutherse Kerk kry ons daarom ook die gedagte van landskerke onder die regering van die betrokke vors van die land. By die Kongregasionaliste word die gedagte van die selfstandigheid van 'n plaaslike kerk so beklemtoon dat dit ontaard in die outonomiteit en onafhanklikheid van elke gemeente (vandaar die naam independentisme). Waar die Roomse Kerk die koninkryk en kerk met mekaar vereenselwig, het die Kollegialisme die kerk weer totaal losgemaak van die koninkryk. Volgens hierdie stelsel is die kerk - soos die staat of enige ander samelewingsverband - die resultaat van die wilsbesluit van 'n groep individue, en kom die kerk derhalwe uit die mens self op en kan dit beskou word as 'n gewone vereniging.

    In die Gereformeerde kerkregering is meerdere vergaderinge belangrik en die besluite daarvan bindend - hoewel altyd toetsbaar aan die Woord en konfessie - maar meerdere vergaderinge konstitueer nie 'n kerk nie. Anders gestel: dit is nie die kerk (enkelvoud) wat daar vergader nie, maar wel verteenwoordigers of afgevaardigdes van kerke wat saamkom.

    Onder invloed van die Kollegialisme en Presbiterianisme bestaan die neiging om die kerk van Christus as 'n groot struktuur of selfs magstruktuur teenoor of naas die staat te beskou en wat dan deur sinodes regeer word. Op hierdie wyse word die presbiteriale regering deur sinodale regering vervang.

    Waar die kerk volgens die gereformeerde belydenis op grond van die uitverkiesende genade van God in Jesus Christus as 'n gemeenskap van gelowiges beskryf word, is die charismatiese bewegings eerder samekomste van individue op grond van hul eie subjektiewe besluite.

    6.4 Kerk-owerheid (staat)

    In die Gereformeerde kerkregering word die taak en terrein van die kerk en die owerheid duidelik van mekaar onderskei. Sowel die kerk as die owerheid is dienaars van God en albei op eiesoortige wyse diensbaar aan die koninkryk van God.

    Hiervolgens moet die kerk die owerheid gehoorsaam, voorbidding doen vir die owerheid en by geleentheid getuig teenoor die owerheid. Die owerheid weer is geroep om vir die kerk ruimte te skep om sy roeping in die wêreld te volbring, hom te beskerm en daartoe by te dra dat die koninkryk van God gedien sal word. Elkeen regeer egter in sy eie terrein en geeneen voer oor die ander heerskappy nie.

    In ander stelsels van kerkregering word die terreine van die kerk en die owerheid soms totaal geskei of heeltemal vermeng of deur een van die twee oorheers. Die Roomse Kerk glo byvoorbeeld dat die pous albei swaarde dra, naamlik die geestelike sowel as die wêreldlike swaard. Die Episkopaalse en Erastiaanse stelsel van kerkregering gee alle regeermag in die kerk en die wêreld aan die owerheid oor, terwyl die moderne neiging bestaan om die owerheid volkome neutraal teenoor die kerk te laat optree. Sodoende word die kerk en owerheid totaal van mekaar geskei. Die charismatiese bewegings lê eensydig die aksent op die geestelike werklikheid, staan grootliks neutraal teenoor die burgerlike regering, en in sommige gevalle selfs vyandig teenoor die natuurlike lewe en die burgerlike regering.

    7 Samevattend

    Dit is duidelik dat die kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika 'n kosbare kleinood is. Tog is dit geensins 'n kanonieke geskrif nie. Dit waarborg nie op sigself 'n volmaakte kerk of kerkregering nie, maar wil alleen diensbaar wees aan die Christusregering.

    Die kerkorde moet noukeurig en met diskresie hanteer word. Die Skrifbeginsels van kerkregering moet telkens agter 'n bepaalde artikel van die kerkorde raakgesien of gesoek word en artikels moet sowel afsonderlik as in samehang met mekaar en selfs in die geheel van die kerkorde gelees en gebruik word.

    Ons bede is dat u die kerkorde 'n nuttige en noodsaaklike instrument sal vind wat sal

    meehelp om die kerk van Jesus Christus te bou.